Week 40 in Afrikaans - Bainskloof se klipspringer staproete en snotneuse

Die "St James Walkway" van Kalkbaai tot in Muizenberg


Daar is ’n paadjie al langs die see van Kalkbaai tot in Muizenberg. Die treinspoor loop ook langsaan en die pad vir die karre ook. Die stap-paadjie is teen die see en word deur die bosse en die treinspoor geskei van die grootpad. Dit is omtrent 2,5 km ver van Kalkbaai tot in Muizenberg en die paadjie is ’n gunsteling regdeur die dag vir drawwers en stappers. Om "op te warm" voor ons gaan “surf” in Muizenberg, stap ek van Kalkbaai af Muizenberg toe. Die beste tye sover vir branderplankry is vroeg in die oggend, en daarom dat ons so vroeg opgestaan het daarvoor.

Iets anders wat die week "opgestaan" het, was die wind. Aanhoudend. So buite speel (behalwe vroegoggend surf) was daar nie baie van nie, maar skoolwerk wel :-). Na ons vroegoggend ge”surfery” en die wind... het ons al 4 ewe skielik hierdie week siek geword. Dis die eerste keer op ons padrit wat ons siek was (is dit nie amazing nie?!). Ons het onsself toe maar goed ge”dose” met allerhande dinge met vitamine C en borrels in :-) want die naweek het voorgelê met ’n staproete deur die Bainskloof!

Die plek is eintlik baie ryk aan geskiedenis, maar daar is nie genoeg lus tussen die 4 van ons om die geskiedenis op te soek en te lees nie. Ek bêre maar die plekke so goed ek kan in my gedagtes sodat ek eendag kan terug verwys daarna as ek dalk iets raaklees of lus word om iets op te lees. Blykbaar is Kalkbaai gestem as die nommer 1 plek om te bly in die wêreld.. (so sê ons airbnb gasheer), en ek moet sê die plekkie is baie aanloklik. Die strate is vriendelik en vol interessante draatjies en paadjies, en alles is mooi skoon.

Vrydagoggend het ons eers gou gaan uithelp by ’n kleuterskool in “Ocean View” - ’n buurt hier naby met baie werkloosheid en alkohol misbruik. Die kinders daar gaan verniet skool van 8uur tot 12uur (en kry twee keer kos) en ek en die kinders het gaan kossies aandra en skottelgoed was. Die mense was baie vriendelik en bly dat ons daar was om te help. Daar was omtrent 60 kindertjies tussen 3 en 5 jaar oud.

Toe gaan haal ons vir Keara (my niggie) in Stellenbosch en ry deur Wellington, Bainskloof toe.

Ek kan nie onthou presies hoe oud ek was nie, maar ek was al in die laerskool, toe ons afgery het Kaaptoe en in Bainskloof beland het. Ek onthou my pa se stories van die bandiete wat die pad gebou het en die spierwit klippe wat daar doer onder in die kloof gelê het en hoe verwonderd ek was oor dit alles. En dat ons daardie aand in ’n huis geslaap het by vreemdelinge wat so gasvry met ons was en dat ons tot laat gekuier het en saam met hulle geëet het ook.
Bainskloof

Ons het saam met die bergklub gaan stap in die kloof en daar was omtrent 20 van hulle mense wat saamgestap het. Ek was so opgewonde toe ons die staproete die oggend begin en ons reg verby daardie selfde huis waar ek oorgeslaap het as kind by die vriendelike vreemdelinge gestap het en al die herinneringe terugkom. Ons het van “Eerste Tol” na “Tweede Tol” deur die kloof gestap, al met die riviertjie langs, oor die klippe en deur stroompies en swem-swem in elke poel. Dit was heerlik… Die bergklub mense stap natuurlik gereeld en hulle handhaaf ’n vinnige spoed, en ons 2 siekes (die kinders is toe al lankal weer gesond) stap toe maar agter langs. Die kinders het vinnig verveeld geraak by die slakke en vang toe op met die vinnige groep heel voor. Elke keer as ons by ’n waterpoel stop vir ’n breek dan vertel almal met blink oê hoe oulik ons kinders is en hoe Charma rats van klip na klip spring en dat selfs die mees gesoute stappers onder hulle nie kan byhou by haar nie!
Bergstapper vergadering

By een van die poele het die enigste ander kind wat saamgestap het, benoud geraak in die water. Declan duik toe onder hom in om hom bo te hou sodat hy nie verdrink nie, gelukkig sien Pieter hom toe en duik in om hulle altwee te help. My seun is toe sommer ook ’n held vir die dag!

Hierdie week skuif ons aan na ons volgende huis waar ons gaan bly tot die 26ste Maart. Ons pas eintlik die huis op, en sou aangery het tot op Onrus naby Hermanus, maar het gevoel nog ’n bietjie tyd naby Kaapstad sal lekker wees en met die dat ons langer op een plek gaan bly sal ons waarskynlik die skoolwerk vir die eerste kwartaal sommer vinnig kan afhandel.

Charma gee 'n wilde sprong

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument

Verf en verf en verf