Week 31 in Afrikaans - Cederberge (Kromrivier Cederbergpark)

Die hoeveelheid fotos wat ek neem lyk soms vir my direk verwant aan hoe goed (of opwindend?) my dag was. Maandag tot Donderdag het ek 35 fotos geneem. Van Vrydag af is daar oor die 500 fotos wat besig is om op te laai na google photos toe.
Ek gaan julle vertel van ons week van Vrydag af.

Ons het vroeg opgestaan en gepak vir ons naweek Cederberge toe! Die keer het ons 2 nagte bespreek op die plaas Kromrivier wat naby mooi klimroetes is en ook naby die bekende Maltese kruis. Oppad soontoe het ons deur Moorreesburg gery en omdat Pieter moes werk doen het ons gou gestop by die Koring museum. 

Daarvandaan het ons gery tot by Piketberg wat 'n pragtige dorpie is met so geskiedkundige roete soos wat ons gestap het toe ons in Barberton was. Ons het vinnig in Citrusdal gestop vir brandstof en die pad verder gery dieper in die Cederberge in.

Die vrou by wie ons bespreek het, het ons gewaarsku dat daar geen brandstof of selfoon opvangs hier is nie.
Die laaste ent is 'n grondpad wat net so oor 'n uur vat om te ry. Heelpad is daar geen sein nie. Die grondpad is op party plekke glad, dit voel eienaardig en mens gly-gly so padlangs. Soos dit seker maar moes gebeur het een of ander tyd, kry ons toe 'n pap wiel. Die hele kattebak moes uitgepak geword het om by die spaarwiel en jack te kon uitkom, en toe dit gedoen is en die kar gelig word besef ons hy is nie hoog genoeg om die spaarwiel in te kan kry nie. Gelukkig het Pieter voorbereid gekom en hy kon toe die gat "plug".

Ons bly hier in 'n baie gemaklike huisie reg langs 'n meer waarop 'n klein dobbertjie nes gemaak het tussen die lelies. Charma het dadelik gesê sy wil heel dag lank op 'n kombers sit en na die voëls kyk. Sy doen dit toe vir omtrent 2 sekondes en spring net daarna op om gou iets anders te doen.
Gister het ons die hele dag geklim. Declan kon vir die eerste keer sy nuwe klimskoene uittoets en Charma was die keer nie so vreesbevange met die afkom nie. Vandag het ons 8 km gestap (heen en weer) om na die Maltese kruis te gaan kyk wat 'n ongelooflike rotsvormasie is naby die Dwarsrivier plaas.

Dit is nogal oulik hoe Cape Nature die areas bewaar. Mens moet permitte kry voor jy na enige van die besienswaardighede hier kan gaan, en dan gee hulle vir jou kodes. Elke plek het dan 'n hek waardeur jy moet ry wat toegesluit is met 'n kombinasieslot (waarvoor jy dan die kode gekry het). So maak hulle seker net die mense met permitte gaan deur.

Hier is 'n mooi youtube video van ons tydjie in die Cederberge:

More ry ons terug Langebaan toe vir ons laaste week daar. Ek is seker ons sal ook dan offisieel klaarmaak met skool vir Declan wat wonderlik wees!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Finding King Shaka's Isivivane

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 35 in Afrikaans - Stellenbosch, Houtbaai, Vishoek, Kalkbaai