Week 30 in Afrikaans - !Kwha ttu, Weskus fossielpark en branderplankry

Hierdie week was ons by 2 baie interessante plekke. Die eerste een was !Khwa ttu, 'n plek waar mens leer van die San mense. Dit is ook 'n skool vir San mense om heen te gaan en self te leer van hulle eie kultuur wat amper heeltemal uitgesterf het. Dit was baie interessant, en die plek is baie mooi ingerig. 

Dit het my herinner aan 'n boek "Eternity in their hearts" waarin 'n sendeling vertel dat God in elke kultuur en taal iets van Homself gebêre het sodat mense van alle nasies Hom sal soek. Ek het gewonder of Hy dalk juis in vandag se Suid Afrika al die volke in 'n identiteitskrisis in dompel sodat ons Hom weer moet begin soek.

Die tweede plek was die Weskus fossielpark wat perfek was vir Declan se NW waarmee ons die week begin het wat gaan oor fossiele. Dit is 'n massiewe stuk land wat vol versteende beendere is - dit lyk soos 'n groot diere graf. Hulle het sabel getande tiere se beendere daar gevind, 'n megalodon haaitand, 'n kort-nek langhoring kameelperd se beendere en nog baie interessante diere fossiele. Dit was nogal fassinerend.

Die eienaar van die huisie hier in Langebaan waarin ons bly, was gaaf genoeg om vir ons die sleutel vir sy stoorplek te gee waarin sy 3-man kano en spane gebêre word en ons kon lekker om die eiland roei hierdie week. Dit is nogal 'n interessante plek, die eiland, dis deel van die weskus natuurreservaat en mens mag nie daar aan land gaan nie. Daar is massas voëls, en snaaks genoeg - spierwit hasies.
Van die bootjie af kon ons baie jellievisse en robbe sien in die helder water terwyl ons geroei het.
Gister het ons gery tot by Dwarskersbos se strand, deur Velddrif waar hulle bokkoms maak en van daar af deur die Groot Paternoster Natuurreservaat tot in Paternoster waar ons vir oulaas vir die mooi wit weskus huisies by die see gaan kyk het.


Die wind was so paar keer die week net reg gewees vir die vorming van klein golwe hier naby ons en Pieter en Declan kom al mooi reg met die "surf"ery. Selfs ek het 'n beurt gekry om te probeer!

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 53 - Ons laaste week in Mosselbaai