Week 27 in Afrikaans - Cederberge (Kunje Gasteplaas)

Hierdie week het ons in die Cederberge gebly in 'n eenvoudige huisie op 'n plaas. Ons was weggesteek tussen bome en rotse met baie geheime speelplekke.



Daar was so baie dinge op ons lysie wat ons wou gaan kyk as ons in hierdie omgewing is, maar dit wat direk om ons was, was net te aanloklik so ons het die hele week net op die plaas gebly.

Oppad hierheen vanaf Lambertsbaai het ons in Clanwilliam gestop en die tronkmuseum en die rooibostee fabriek asook die skoenmaak fabriek besoek. Die plant waarvan rooibostee gemaak word kom natuurlik net in die Cederberge voor. Dit was vir ons baie interessant om te leer hoe die proses werk van die plant tot by die maak van die tee in die boksie. Die fabriekwinkel het 'n lekker "smoothie" van rooibostee wat 'n lafenis was in die amper 40 grade celsius daardie dag!

Die skoenfabriek was ook baie oulik- hulle maak regte leerskoene en die hele proses van die leer wat uitgesny word tot waar die sole opgeplak en gesny word was reg voor ons oë gedemonstreer. Ons was toegelaat om in die fabriek rond te loop terwyl die mense hulle werk doen en dit was sommer lekker om die leer so om ons te ruik en te voel en te sien.


Ons het hierdie week maandeindes gedoen vir al ons kliënte so elke dag was maar meeste van die dag binneshuis gespandeer om administratiewe werk gedoen te kry en dan wanneer ons 'n kans kry gaan spring ons in die kuil hier naby ons. Te lekker! 

Elke aand het ons 'n lekker vuurtjie gebou en kos gemaak en dan tot laat in die aand uit "Kringe in 'n bos" gelees. Ons leef onsself so in die storie in dat almal al lelike goed van Macdonald (die houtkoper) sê en vir Saul aan "cheer" wanneer hy opstaan en veg. Die hele dag deur word ek tussenin alles gepeper met vrae van Declan af soos "Het Kate toe saam met Saul weggeloop, ma?"... of "Ek dink hierdie kareeboom is 'n goeie boom om in weg te kruip vir 'n olifant, nê ma?"... of "Was daai nou 'n Knysnaloerie wat gesing het, ma?"... dis net Charma wat nie regtig so geinteresseerd in die storie was nie... totdat sy besef het Kate en Saul is verlief, toe sien sy net soos ons uit na die volgende hoofstuk.

Saterdag het ons 'n kort staproetetjie gedoen wat hulle "speelgoedland" gedoop het. Die verskillende rotsformasies lyk omtrent soos 'n reus se speelplek en ons het lekker geklouter tussen die rotse saam met die kids.

Vandag het die kinders gevra ons moet die hele dag by die water wees en swem en piekniek hou, so dit doen ons toe. Ons sien toe vir die eerste keer 'n ander paadjie daar naby raak en toe ons hom volg, kom hy by 'n NOG mooier kuil uit waar ons die res van die dag toe speel. Die kuile is BAIE diep wat beteken het ons kon lekker afspring van hoë rotse af. Terwyl Pieter op een stadium teen nog steiler ritse uitklim om van 'n NOG hoër rots af te spring, toe begin Declan vreeslik tekere gaan en skree "daar's 'n bobbejaan... ag 'n tasmanian devil... ek bedoel... ek bedoel...!"... en toe ek hom raaksien, toe is dit 'n otter! Die arme otter skrik toe so groot vir ons dat hy die bosse in vlug!

Ons gaan more Sutherland toe ry en daar bly tot Donderdag toe. Ons hoop om bietjie van die sterre te leer voor ons Donderdag Langebaan toe gaan xxx

(Kyk bietjie ons youtube video oor Kunje hierso: https://youtu.be/qDv8iEkXgFQ

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 53 - Ons laaste week in Mosselbaai