Week 35 in Afrikaans - Stellenbosch, Houtbaai, Vishoek, Kalkbaai

Ons laaste week voor meeste van ons kliënte toemaak vir die kerstyd is gewoonlik maar 'n rowwe week. Almal soek alles op dieselfde tyd want almal wil die week voor kersfees toemaak.
Arme Charma het aan die kortste end getrek want ek en Pieter het elke dag van vroegoggend tot laataand gewerk. Gelukkig het sy maatjies gemaak met die bure se dogter en wanneer hulle tuis was kon sy lekker speel.

Om dit alles te kroon het Declan (en ons) vreeslik begin verlang en ons het laaaang telefoon gesprekke so gereeld as moontlik deur elke dag gehad om beter te voel.

Vrydagmiddag 4uur het ons die rekenaars afgesit en besluit om bietjie te gaan "surf" in Muizenberg.
Terwyl ek bietjie weg was laasnaweek het Pieter en Charma ook die area lekker verken en hulle het my al die mooi hoekies en draatjies gaan wys by Kalkbaai, Vishoek, St James, Clovelly, Simonstad en Boulders strand wat hulle ontdek het. 


Met die son wat so laat sak hier in die kaap het ons onsself toe heeltemal misgis met tyd en met 'n skok eers 11uur hy die huis gekom daai aand.
Saterdag het ons 'n hele lang lys van goed gehad om te doen in Kaapstad en dit verander toe sommer in 'n trippie Houtbaai toe vir die lekker vis en tjips by Mariner's Wharf daar op die hawe. 


Die hoogtepunt van die week was dat Declan weer veilig terugbesorg is by ons na 17 dae wat hy gekuier het van Pretoria tot in Oos Londen en weer tot hier in Stellenbosch! Dis so lekker om ons seun weer te sien en hy lyk sommer groter vir ons!


Vanoggend het ons 'n 5km gaan stap op 'n wynplaas hier naby ("Vergenoegd") saam met my boetie-hulle. Dit was so lekker om hulle almal weer te sien. Ons het toe ook sommer vir die eerste keer vandat ons in Stellenbosch is gaan "wynproe", en dit was ook heerlik. (Nie dat ek enigsins die "cotton-candy" of "oak-aroma" kon raak-proe nie!)

Dis sommer 'n groot bederf dat van ons familie by ons kon uitkom hierdie maand. Die verlange was maar groot en dit het baie gehelp.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Verf en verf en verf

Week 51 - Tweede week in Mosselbaai, kuiers in Gauteng en 'n padrit na Stilbaai