Week 32 in Afrikaans - Laaste week in Langebaan

As 'n mens so lank by mekaar is, dan vergeet jy soms dis lekker en verbeel jou dan dis sleg. Dit gebeur soms met ons op die toer. (Ja ek weet dit klink onwaarskynlik...)
Ons is 24 uur per dag by mekaar.
Niks meer "alleen-tyd" as die kinders skooltoe gaan of buitemuurse aktiwiteite doen of watookal ons nog gedoen het toe ons "normaal" was nie.

Die huisies waarin ons bly is gewoonlik so klein dat ons nie in die aand (of in die oggend) in die bed net bietjie kan afskakel en re-cap oor die dag se gebeure nie.. soos 'n "wind down"
So dit was 'n vars briesie van wonderlikheid toe die kids die week whatsapp videocalls ontdek het. Hulle het ure lank met maats en familie gesels en dit het die hele ondankbare atmosfeer gebreek. Wys jou net hoe nodig mens ander mense het. Ek is BAIE dankbaar vir vriende en familie!

Hierdie was ons laaste week in Langebaan. Daar was 'n dringendheid in my hart om die plek uit te put vir wat hy ons kan bied en ek het besluit om die Weskus Nasionale park deur te ry en verken. Declan moes deur sy SW en Lewensvaardighede wroeg om die eksamens te skryf...(ek moet sê ek wou graag net nulle intik op die rapport sodat die skooljaar nou net kan klaarkom!) So dit was net ek en Charma wat op die avontuur gegaan het.

Dit is regtig 'n pragtige park. Nie baie groot nie, so mens kan regtig alles in 'n dag doen. Dinsdag het ons deur gery en by elke voëlkyk plek gestop en gekyk hoeveel voëls ons kan sien. Ons was baie opgewonde om weer lepelaars te sien en vir die eerste keer twee bleshoenders!
Woensdag het ek en Charma die 4,6km Bakoor staproete gaan stap en weer 'n klomp skilpaaie gesien en baie interessante voëls. Die roete neem jou tot by die Seeberg uitkykpunt waar die wind jou behoorlik wegwaai, en dan met dieselfde paadjie weer terug.


Donderdag het ek en Charma gou vir die laaste keer om die eiland (Schaapen eiland) geroei en 5 van die wit hasies gesien! Daar het ook weer 'n rob tot by ons geswem en so speel-speel naby ons gebly tot aan die anderkant van die eiland.

Ek en die kinders het een laaste keer in die ysige water van die strandmeer gaan swem en dit het letterlik gevoel of ons klein stukkies ys van ons afdroog toe ons uitgeklim het! Later die middag het ek en Charma die 7km staproete gaan doen in die park wat van die Geelbek restourant af begin. Hy was so swak gemerk dat ons maar net terug gestap het op ons eie spoor toe ons by die 4km merk gekom het. Ons was gelukkig om 3 slange, 21 elande, 10 volstruise, 'n bokkie wat ons nie herken het nie en 'n skilpad te sien terwyl ons gestap het. En die beste van alles was dat Declan offisieel klaargemaak het net graad 5!

Hier is ons video oor ons maand in Langebaan op youtube: https://youtu.be/Xa9OHTF1IjA


Vrydagoggend het ons gepak, huis skoongemaak en Stellenbosch toe gery. Dis amazing hoe mooi die kinders al inspring en help met die skoonmaak en pak! Ons bly die maand in my klein niggie se woonstel. Sy is darem nog hier tot Woensdag om haar laaste eksamen te skryf, so ons kuier lekker met haar.

Saterdag het ons gaan kyk na die mooie Stellenbosch universiteit waar sy studeer en daarna het ons die hele dag op Muizenberg strand gaan speel. Dit is "surfer-hemel" so ons het te lekker baljaar en oor en oor probeer regop staan op die surfboard.

Vandag het ons op die Pêrel van Paarl gaan rotsklim. Dis 'n ander soort klim wanneer mens so ronde graniet rots moet uitklim. Daar is nie regtig iets om aan vas te hou nie, so mens word forseer om jou toerusting te vertrou en weer te besef hoe lekker klou klimskoene teen rots vas. Ons het almal baie lekker geklim. Met die laaste klimroete het Pieter halfpad boontoe besef ons tou is te kort (maw hy gaan nie weer kan afkom tot onder toe nie). Gelukkig is Pieter altyd 'n man met 'n plan en met 'n paar bevele van bo af geskree en knope en dinge is hy toe uiteindelik veilig onder.


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Finding King Shaka's Isivivane

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 35 in Afrikaans - Stellenbosch, Houtbaai, Vishoek, Kalkbaai