Week 36, 37 en 38 in Afrikaans - Berge, hutte en poele
Die laaste week van 2018 was presies so afgesonderd en seinloos soos ek gedroom het dit moet wees. Die jaar met sy sosiale media komponente het my begin moeg maak en die ewige gryp na my selfoon raak uitputtend. So die perfekte wegbreek was berge toe.
Kragloos.
Battery-laai-loos.
Selfoonloos.
Battery-laai-loos.
Selfoonloos.
Ons eerste oorslaap was in die Du Toitskloof berghut. Net na die hugenote tonnel moet jy 'n u-draai maak (eintlik draai jy links na 'n lodge toe en van daar af draai jy regs om aan die ander kant van die hoofweg te kom). Dan swaai jy uit na links op die ou pad en draai weer links by die eerste obskure pad wat jy kry. Die berghut is 'n klipgooi van die parkeer area verder op met die pad en is die eiendom van die bergklub van Suid Afrika. Water moet gehaal word by die bergstroompie so 100m van die hut af en wanneer die son ondergaan is alles pikdonker. Ek dink ek moet nou maar aan myself en die hele wêreld erken dat ek berge verkies bo die see. Daar is iets aan die majestieusheid van berge wat elke keer my asem wegslaan. (Dit en dalk ook my onfikseid as ek tot bo wil stap!)Kort nadat ons daar aangekom het, het my foon gevrek en my laste het ligter geraak.
Ons het na 2 moontlike staproetes gekyk vir die volgende dag (kersfees):
Die eerste een het volgens die kaart na so 6 km soontoe en 6km terug gelyk en sou ons vat tot by die piek van die Dutoitskloofberg. Blykbaar is dit een van die pieke wat mens kan uitken van die see af as jy met 'n skip aankom Kaapstad toe. Dit het heel belowend gelyk, maar nadat ek so bietjie gelees het wat ander mense in die besoekersboek geskryf het, het ek besef dis dalk ter wille van die vrede wat gaan saam met die kerstyd, nie die moeite werd vir ons as gesin nie.
Die eerste een het volgens die kaart na so 6 km soontoe en 6km terug gelyk en sou ons vat tot by die piek van die Dutoitskloofberg. Blykbaar is dit een van die pieke wat mens kan uitken van die see af as jy met 'n skip aankom Kaapstad toe. Dit het heel belowend gelyk, maar nadat ek so bietjie gelees het wat ander mense in die besoekersboek geskryf het, het ek besef dis dalk ter wille van die vrede wat gaan saam met die kerstyd, nie die moeite werd vir ons as gesin nie.
Die tweede opsie was die Kromrivier staproete. As mens net deur die tonnel is, is daar 'n afdraai vir "authorised vehicles" en blykbaar maak die Cape Nature permitte wat ons gekry het ons deel van die "authorised" groep.
Ons keuse was perfek. Dit was 'n lieflike, relatiewe gelyke staproete wat ons 2ure gevat het tot by die eerste waterval. Al langs die Kromrivier en binne in die kloof in met swempoele elke nou en dan. Dit was heerlik. Ek was heel tevrede tot by die eerste waterval, want om tot by die 2de een te kom was daar kettings in die rotse om teen die gladde helling op te kom en daarvoor het ek nie kans gesien met die 2 kinders nie. Maar toe kom daar 'n groep spierwit grys ooms en tannies daar aan wat met groot glimlagte sommer tjoef tjaf daar op klim. Nouja, ek het toe geen verskoning nie en op is ons toe maar.... en was dit toe alles die moeite werd! So 'n mooie plek. 'n Massiewe waterpoel met 'n baie hoë waterval pragtig weggesteek in die kloof. Dit was een van die lekkerste kersfeeste wat ons nog gehad het!
Ons het nog een nag in die hut geslaap en die volgende dag is ons Bredasdorp toe om by goeie vriende van ons te gaan kuier wat in SA is van Amerika af. Oppad soontoe is ons deur Wellington en Robertson en Worcestor maar dit was 'n vakansiedag so niks was oop nie. Bredasdorp self lyk soos 'n oulike plekkie en daar naby is Napier waar ons bo-op 'n berg gaan staan het en tot by die see kon sien. Tussendeur ons lekker kuier het ons ook die volgende dag Die Suidste punt van Afrika gaan besoek (en in 'n ry gestaan om 'n foto te neem) en by die suidste restaurant gaan eet. (Alhoewel die een langsaan ook sê hulle is die suidste een.)
Die Suidste Punt van Afrika |
Na 'n koebaai wat veels te vinnig gekom het is ons terug berge toe, en die keer het ons in die bergklub se "Agtertafelberghut" gaan slaap. Die hut is agter 'n plato in die Halweqa bergreeks wat ook "Tafelberg" genoem word en is nie regtig agter dié Tafelberg nie.
Die paadjie na die hut is so maklik soos kan kom... baie opdraende maar op 'n pad waarop karre kan ry... so daar was geen bakleierye oor "wie loop agter pappa" nie! Mens loop oor so regte hout hangbruggie om tot by die hut te kom aan die anderkant van die stroompie en die hut is goed toegerus met borde, messe, vurke en gas. Die water is klipgooi van die hut af en die beddens is bo in 'n "loft". Ek dink nie daar is woorde om te beskryf hoe heerlik dit daar was nie. Miskien as mens dink hoe Heidi moes voel in die berghuisie by haar oupa sal dit naby kom.
Oppad na die Agtertafelberghut |
Die volgende dag het ons na middagete begin terugstap kar toe en van daar af terug Stellenbosch toe. Dit het so lekker gevoel om terug te kon wees en skoon te wees na al die swetery van die stap.
Saterdag het ons klere gewas en huis skoongemaak want Dinsdag sou ons trek na ons nuwe huisie in Capri.
Ons sou Sondag in nog 'n berghut gaan slaap het in die Hottentots-Hollandsberge. Ons het egter gesukkel om kontak te maak met die oom wat die sleutel het so ons het in Jonkershoek "per ongeluk" 'n 5km roete gestap. Ek sê "per ongeluk" want eintlik wou ons net by die rotspoele uitkom. Ons het een modderige rivierpoel gekry waarvoor ons gegril het, maar toe op die ou einde tog in geswem het. 5km se stap verder was geen ander poele nie.
Stap in Jonkershoek |
Maandag het die oom kontak met ons gemaak en ons het besluit om hut toe te gaan. Die Johnson's hut is in 1964 ingewy deur die bergklub en dis 'n dierbare ou hut wat goed toegerus is met koppies, borde, stofie, potte en panne. Wat hom ook spesiaal maak is dat hy op Simon van der Stel se plaas "Vergelegen" gebou is.
Toe ons die sleutel by die oom kry en hy hoor ons is van die Magaliesberg seksie van die bergklub toe vra hy uit oor die toestand van die Magaliesberge soos iemand wat vra hoe dit met 'n vriend van lank terug gaan. Hy kon toe sommer so staan in die pad voor sy huis en vir ons beduie in watter kloof ons kan gaan stap as ons by die hut aangekom het. (So naby is die hut aan sy huis)
Die Bergklub se Johnson's hut |
Die Landdroskloof (waarin ons toe gestap het) is amper heelpad koelte. Pieter het gesê die oom het gepraat van 2 groot bergpoele en 'n waterval wat in die kloof op is. Ons was heelpad langs die bergstroompie en verby heelwat klein poele maar 3 ure later was daar nogsteeds geen waterval of groot bergpoel om van te juig nie...
Na 'n heerlike middagete langs die bergstroompie het ons toe weer afgeloop.
Toe ons amper weer by die hut is, is daar 'n paadjie wat uitdraai na regs. Teen die tyd was ek toe al redelik ver agter die ander, te ver om te roep en so ver dat selfs as hulle my sou hoor, hulle nie lus sou wees vir omdraai nie. Maar ek was lus om die paadjie te volg en ek doen toe .. net om 'n entjie verder 'n dubbele waterval in 'n swempoel te kry! Dit was eintlik snaaks - ons het onsself GAAR geloop berg-op om 'n lekker swemplek te kry net by die hut...
Speel in een van die rotspoele in die berg |
Ons het heerlik in die hut geslaap en die volgende oggend maklik uitgestap.
Oppad terug kar toe van die Johnson's Hut |
..................
Dit was nuwejaarsoggend en wat vir ons voorgelê het was die groot pak en skoonmaak voor ons na ons nuwe huisie sou ry in Capri. Ek en Pieter het goedgunstiglik besluit die kinders kan vir oulaas eerder met hulle maatjies speel as om saam met ons te werk en dit is toe ook wat gebeur na 'n lekker ontbyt. So net na 2uur die middag is alles toe gepak, huisie skoon en ons vat toe die pad.
Ons bly in die grootste huis in die buurt. Mens sien hom as jy met ou Kaapse weg aankom. Dit lyk soos 'n paleis! Ons is so bevoorreg om hier te kan bly! Ons het ons eie balkon en ek en Pieter sit toe so na ons dag se harde werk met 'n glasie wyn in die hand en kyk oor die buurt en die see in die verte uit toe 'n oproep deurkom. Ek val toe amper op my rug toe die stem aan die ander kant vir my vertel dat my seun en sy nuwe maatjie 8 karre se wiele afgeblaas het in die kompleks waar ons gebly het! Ons moet toe noodgedwonge al die pad terugry sodat Declan huis-vir-huis gaan klop, onverskoning vra en wiele pomp.
Dit was toe op die ou einde 12 karre, en nie 8 nie en altesaam 24 wiele!
Nouja, na die groot lewensles kom ons toe baie laat die aand eers weer by die huis aan, nog meer moeg as wat ons aanvanklik was.
Nouja, na die groot lewensles kom ons toe baie laat die aand eers weer by die huis aan, nog meer moeg as wat ons aanvanklik was.
Oorgroeide paadjies in die Kasteel de Goede Hoop |
Woensdag het ons Kaapstad toe gegaan om die Kaapse Klopse te beleef. Die tweede nuwejaar. Wat 'n interessante affêre: Kaapstad se strate was toegemaak en dit was eers 'n storie om iewers parkering te kry. Ons wou kyk of ons nie sommer die kasteel kan gaan besoek en dan van die een bastion af kyk hoe die klopse afdans nie... maar die kasteel was 'n groot teleurstelling vir ons (vuil en afgeskeep) en daar was geen toegang na die bastionne nie. Ons stap toe maar Adderley straat toe waar die sypaadjies volgepak was met gazebos (darem nie hoog opgeslaan nie) en ons staan toe by die eerste beste staanplek wat ons kon kry. Mense was oral opgelyn. 'n Bebaarde wit man het op 'n stellasie geklim oorkant die pad om beter te kan sien, 2 mans het bo-op 'n busstop gaan sit, kinders is opgetel om op ouers se nekke te sit om beter te sien.
Ons het almal styf teen mekaar gestaan en die tannie langs my knoop toe 'n geselsie aan met my: "Moet net nie aan haar gazebo raak nie, sy is 'n regte skollie meid... En pasop, sy is die ma van die gangster wat hier sit... "bastards"... die hele lot van hulle". (Sy verwys na die mense agter wie se gazebo ons gaan staan het) "Waar kom die klopse dan vandaan aunty", wou ek weet. "Nee dis maar net om die jongmense van die strate af te hou en die families weer bymekaar te bring. Maar die gangsters run dit alles. Daar is BAIE geld betrokke hier".
Nouja, na 'n lekker "jive" in die strate, stap ons toe maar verder en kry 'n middagete by 'n kaffeetjie naby waar ons parkeer het.
Donderdag was daar baie werk wat ingekom het, maar 4uur besluit ons toe om Vishoek strand te gaan besoek. Die branders was bietjie rof, so ons kon nie lekker branderplankry nie, maar ons het heerlik geswem. Vrydag was dieselfde storie... onverwags baie werk maar uiteindelik net so na 14h00 kon ons pad vat. 'n Skoolvriendin van my wat saam met my in die koshuis was het haar eie gallery in Noordhoek. Ek het haar raakgeloop op facebook en ek is absoluut mal oor haar skilderye. Ons maak toe kontak en kuier toe die res van die Vrydag met haar.
Saterdag het ons die Vishoek parkrun gaan doen en later die middag gestap tot bo-op Lion's head. Dit is net mal om tot bo te kom. Daai spits is smal en klipperig, maar goed ingerig met leertjies en kettings, en voor jy jou kan kry is jy heelbo en dan was dit nie eers so erg nie.
Bo-op Lion's Head |
Sondag het ons die Kaapse Skiereiland verken. Gery tot op Kaappunt en gestap tot by die lighuis. Die mooiste rotse en wit strande en turquoise water. Soos uit 'n ander wêreld.
Maandag was 'n voldag se werk vir my en 'n dag se staan in die ry vir sy paspoort vir Pieter.
Dinsdag het ons hiervoor opgemaak deur die Kompanjie tuine te gaan verken in Kaapstad. So mooi om te sien en al die interessante geboue rondom. Ons was in die St George katedraal (anglikaanse kerk) in die Slawelosie museum, in die Suid Afrikaanse museum en reg deur die tuin gestap en al die mooi standbeelde en bome bekyk.
Woensdag en Donderdag was weer gewone werksdae vir ons en skool vir die kinders.
Vrydag was ons weer stad toe en die keer het ons bietjie gaan kyk hoe lyk die kleurvolle Bo-Kaap se huisies. Ons het toe sommer gaan loer hoe lyk Rhodes se gedenkplek en net onder dit is daar 'n verlate dieretuin.
Vrydag was ons weer stad toe en die keer het ons bietjie gaan kyk hoe lyk die kleurvolle Bo-Kaap se huisies. Ons het toe sommer gaan loer hoe lyk Rhodes se gedenkplek en net onder dit is daar 'n verlate dieretuin.
Saterdag het ons weer stad toe gegaan, die keer het ons eers Houtbaai se parkrun gedoen. Ons het so bietjie die strate van Houtbaai verken en toe ry ons weer stad toe. Ons het 'n geleentheid gekry om 'n oom en tannie se huis op te pas tot einde Maart, so ons het gou by hulle gaan eet en die sleutels vir hulle huis gekry.
Gisteraand het ons bo-op Tafelberg geslaap. Met die kabelkar gery tot bo en so bietjie langer as 'n uur gestap tot by die bergklub se hut. Die weer was nie aan ons kant nie, so ons was heelpad in 'n wolk. Met tye het dit so effens oopgetrek, net genoeg dat ons die mooi fynbos om ons kan sien. Die nag was darem nie te koud nie en die terugstap vanoggend heel oraait.
Nou lê die week voor ons met klomp "deadlines" wat ons vir so rukkie uit ons droomlewe gaan laat wakker word.
Opmerkings