Week 29 in Afrikaans - Langebaan


Die strandmeer hier in Langebaan is 'n pragtige plek. Ons stap graag so teen die strand af al langs die meer of vat ons koppie koffie en gaan sit op die bankie wat uitkyk oor die water. Daar is 'n eiland reg voor ons wat "Schaapeneiland" genoem word en dit lyk asof dit lekker sal wees om rondom hom te swem een dag. Die robbe kom speel ook gereeld hier in die rustiger water en wanneer die wind opsteek (soos dit elke dag doen) is die kite-surfers volop. Die wind waai omtrent altyd en dit vat tyd om gewoond te raak aan die koue (van die wind) so deur die hitte (van die son)... alhoewel die water hier baie warmer is as by enige van die ander weskus strande hier rond.
Woensdag het Pieter summier besluit ons moet 'n surfboard gaan koop, en ons pak toe die amper 2 ure se ry aan na Blouberg toe. Ons sal uiteindelik almal graag wil probeer om te surf, en daarom was dit nodig dat die bord nie net groot genoeg sal wees vir Declan nie, maar ook vir Pieter moet kan hou. Hy koop toe die 8' een. Ongelukkig beteken dit natuurlik dat Declan soos 'n dwergie lyk teen die bord.

Met 'n surfboard moet daar gesurf word en daarom bevind ons onsself toe die res van daardie dag by "Big Bay" naby Blouberg. In die proses het die sterre in die manne se oë net soveel vermeerder as die hoeveelheid seesand in die kar. Ek en Charma het meeste van die middag spandeer deur dop te hou hoe 'n 8' surfboard oor die golwe ry met Declan soos 'n dapper sandkorrel teen hom vasgeplak.
Vrydag het Charma amptelik klaar gemaak met graad 1 en ek en sy het dit gevier deur die hele dag op die strand te gaan speel. Dit was baie lekker en die weer was ook perfek daarvoor. Een van die robbe wat ons dopgehou het heelweek het tot amper reg by ons kom swem.

Saterdag wou ons die dag spandeer by die Weskus Nasionale Park, maar toe ons die oggend daar aankom is die park toe agv 'n fietsrywedren wat plaasgevind het tot 13h00 daardie middag. Ons ry toe maar Jacobsbaai toe en die manne probeer weer bietjie "surf". Ek en Charma het met die "boogie boards" ingegaan maar die water was so koud dat ons bene gepyn het! Die manne het toe darem ook begin koud kry so toe ry ons die res van die dag rond en kyk na die pragtige plekkies al langs die kus af.

Kraalbaai, vertel almal ons nou al vandat ons hier aangekom het, is ons eie klein Mauritius. Helder, warm water en min of geen wind nie. Dit klink bietjie moeilik om te glo as jy kyk op google maps waar dit is van waar ons is... maar kan jy glo - dit is presies net soos almal beskryf het! Wat 'n mooie plek!

Vandag het ons saam met vriende oor duine-paadjies gery tot by 'n weggesteekte strand naby Paternoster en die hele dag net daar op die strand gekuier. Pieter en Declan het weer die surf-ding probeer so met die ontstuimige branders saam, maar die heel mooiste was dat daar 'n skool dolfyne en 'n rob reg voor ons in die branders baljaar het! Dit het gelyk asof hulle vir Pieter hulle probeer wys wat 'n mens eintlik veronderstel is om in die branders te doen.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

The best surfing spots in South Africa along the West Coast (so far)

Week 33 in Afrikaans - Stellenbosch, Paarl, Taalmonument

Verf en verf en verf